Die Groot Braaigids 2026
Wat braai ons?
5 truuks vir die
volmaakte steak
Jou volgende gebraaide steak hoef nie treurig te wees nie. Volg dié wenke om voortaan die volmaakte steaks te braai.
1. Die steak moet kamertemperatuur wees voor dit op die vuur gebraai word.
As jou steak gevries is, haal dit uit die vrieskas ongeveer 'n dag voor die tyd en plaas in die yskas sodat dit teen 'n rustige tempo ontdooi.
2. Maak seker die kole waarop jy braai is vuurwarm.
Moenie die kole gebruik van 'n vuur wat al lank brand nie.
As jy saam met vriende om die vuur wil staan en klets, maak 'n kleiner vuur en maak 'n aparte vuur om op te braai.
3. Moenie 'n vurk gebruik om die steak om te draai nie. Dit steek gate in die vleis en só verloor 'n mens baie van die sap.
Gebruik 'n tang om die steak om te draai.
4. Laat die vleis eers 'n bietjie rus voor jy dit voorsit sodat die sous in die steak kan afkoel en in die vleis intrek sodat dit nie alles uitloop wanneer 'n mens die steak oopsny nie.
5. Moenie die steak weer verhit nie. Dit sal die vleis laat uitdroog en taai word.
Het jy geweet? Op Netwerk24 Kook is daar meer as 5 000 resepte om jou te help met idees vir nuwe geregte waarmee jy jou braaitafel kan aanvul.
Lamstjops met kruiesalsa
Johané Neilson
My gesin se gunsteling-braaivleis is ’n een-hap-lamsribtjoppie. Hierdie “tomahawk”-tjops is effens langer met ’n bietjie minder vet, en as jy meer as een vleissoort braai, kan jy wegkom met een per persoon pleks van twee of drie. Die kruiesalsa is ook lekker saam met hoender en bees.
Bestanddele
- 8 tomahawk-lamstjops
- 15 ml bruinasyn
- 10 ml koljandersaad, gestamp
- 2,5 ml witpeper
- ’n ruim knypie Maldonsout
- Kruiesalsa
- ½ rooi ui
- 60 ml mentblaartjies
- 60 ml pietersielie
- 60 ml dille of vinkelblaartjies
- 1 knoffelhuisie
- 15 ml rooiwynasyn
- 15 ml olyfolie
Metode
1. Sprinkel die asyn oor die vleis en vryf in met die speserye en sout. Laat die vleis in die braaibak staan om te marineer terwyl jy die vuur aansteek en die kruiesalsa maak.
2. Kap die ui, kruie en knoffel baie fyn met 'n skerp mes en meng dan met die asyn en olyfolie, of gebruik jou staafmenger om alles saam fyn te maak as jy hou van 'n gladder kruiesous.
Proe, en geur na smaak met sout en peper. (Ek voeg 'n groot rooi jalapeno-rissie by die sousie vir 'n bietjie byt.)
Skep in 'n bakkie en hou eenkant.
My tuin is vol vinkel, pietersielie en ment, maar jy kan ook speel met vars koljander en basilie as jy verkies. Die ment se geur werk goed saam met al hierdie sagte kruie.
3. Braai nou die tjops oor warm kole tot so gaar soos jy daarvan hou en sit dit voor met die kruiesous.
Ek hou daarvan om die tjops eers regop langs mekaar te hou en die vet bietjie uit te braai voor ek die kante skroei. En, voor ek die vleis van die hitte af haal, hou ek die tjoppies weer bymekaar met die beenkant na die kole om seker te maak die vleis teen die been is heerlik bros gebraai.
Vir elke soort wors ’n tyd en
’n plek by die braai
Min dinge sê Suid-Afrika soos die geur van wors wat braai oor warm kole. Sappig, geurig en vol karakter – dit bring mense om die vuur bymekaar. Danielle Daniëls ondersoek die groot verskeidenheid wors waaruit jy kan kies.
5 kennergeheime vir ’n volmaakte gebraaide hoender
Is jou hoender altyd te rou of te gaar? Dié koskenners deel hul topwenke vir die volmaakte gebraaide hoender.
"Maak jou hoender eers halfgaar in die oond voor jy dit op die vuur verder braai," sê Herman Lensing, Sarie se kosredakteur en die aanbieder van Inspirasiekos met Sarie en Okkasie-inspirasie op VIA.
"Sny die hoender se rugstring af en maak die hoender plat en goed bestryk sodat hy deur kan braai en 'n lekker buitekant kan hê," deel Tuis se kosredakteur, Johane Neilson.
"Indien jy marineer, gebruik asyn pleks van suurlemoensap. Suurlemoensap word swart," deel Renette Vosloo, 'n restauranteienaar en aanbieder van VIA se kosprogram Rooitamatie.
"Gebruik net suurlemoensap in braaisous, wat in die laaste 10-15 minute op die hoender geverf word. Vee die marinade heeltemal af, braai die hoender stadig en verf die marinade of braaisous oor gedurende die laaste 10 minute wanneer die hoender bros en bruin gebraai word."
"Met hoenderbraai wil jy 'n vuur hê wat jou kole gee deur die hele proses," vertel Frik Oosthuizen van VIA se Laat die Potte Prut. "Jy maak vuur aan die kant, dan sit jy die hoender langs die kole sodat dit stadig deurbraai sodat dit sappig bly."
En laastens: "Gebruik 'n ketelbraai vir 'n rokerige geur," vertel Johane Neilson, Tuis se kosredakteur.
Uit die see oor die kole
As jy aan braai dink, dink jy nie gewoonlik aan seekos nie. maar dit is net so lekker soos ’n vleisie oor die kole. Salwaa Smith, die eienaar van Cape Malay Cooking, deel van haar gunsteling-seekosresepte wat jy vir jou volgende braai kan oorweeg.
Heerlike Weskus-snoekbraairesep vir jou volgende kuier
As die snoek loop, dan word dit gebraai, gekook, gebak en wat ook al nog! Tasneem van Rooyen deel ’n smullekker snoekbraairesep deur ’n ware Weskusser, wat jou sommer behoorlik sal laat uithonger!
Die een aand eet ons vis en brood en die ander aand dan is dit brood en vis, is dit dieselfde? Só vra Tim Afrika, gebore Weskusser en jarelange inwoner van St. Helenabaai, wat ’n snoek kan braai wat jou mond sal laat water.
“Met snoek aan die kus, word die koppe gekook, die kuite, lewer en magies word gebak of ons maak triepa (maar, dis ’n resep vir ’n ander dag),” sê hy.
Volgens Tim moet jy eerstens onthou dat jy nie ekstra sout moet gebruik as dit ’n “mild
cure” (lank gesoute) snoek is nie.
“Ek hoop dan ook jy het ’n lekker bokwa (groot snoek waarvan die kop op die grond sleep as jy hom oplig) om te braai om jou snoekbraai-ervaring af te rond,” sê hy.
Só braai Tim sy snoek:
Bestanddele
- 125 g yskoue botter, in blokkies gesny
- 6 knoffelhuisies, fyngekap
- 2 tot 3 teelepels gemengde kruie
- 2 suurlemoene, in die helfte gesny
- 1 groot snoek, in vier dele gesny
- Sout en peper na smaak, indien snoek ongesout is
“Let wel, geen jêm nie asseblief, hou dit vir die bakbrood wat jy saam met die snoek gaan geniet!”
So maak mens
Sny die gevlekte snoek in vier gelyke dele. Jy het nou twee pensstukke en twee stertstukke.
Smeer die fyngekapte knoffel in die voue van al vier stukke van die snoek. Sprinkel van die gemengde kruie ook in die voue en druk dan van die blokkies yskoue botter bo-op die knoffel en kruie in die snoek se voue.
Hou ’n paar blokkies botter eenkant.
Plaas nou eerste die twee pens-gedeeltes (die stertkante word hierna gebraai) op ’n toeklaprooster met die dik gedeeltes na mekaar in die middel, en die penskante na die kante van die rooster. Dit sal help dat jou dik gedeeltes gelyk gaar word.
Onthou, jou kole moenie te warm wees nie, sodat die botter stadig kan smelt en een lekkerte vorm met die knoffel en die kruie.
Druk van die suurlemoensap oor die vis uit. Sodra jou botter lekker gesmelt het, kan jy die snoek omdraai. Dit sal so ’n paar minute neem.
Vat nou van daai ekstra botter en smeer dit al op die speke van die rooster sodat dit op die vel drup. Dit sal help dat jou snoek nie vassit nie. Moet egter onder geen omstandighede foelie gebruik nie, dit is ’n doodsonde, meen Tim.
Nadat jy daai rooster goed met die blokkies botter gesmeer het, kan jy jou snoek weer omdraai sodat die velkant ’n bietjie hitte kry. Druk nou nog ’n paar blokkies botter in die voue van die snoek en druk nog suurlemoensap oor dit uit.
As die snoek se kleur nog nie reg is na sowat 10 tot 12 minute nie, dan draai jy hom vir die laaste keer weer op sy vleiskant na die kole. Kry intussen ’n plat oondplaat reg.
As jou snoek na jou smaak reg is, lig die rooster versigtig van die velkant af, druk jou oondplaat tot bo-op die snoek, klap jou rooster toe en draai dit om sodat die snoek netjies in die plaat val.
Volg dan dieselfde metode met die stertkant van die vis. Die snoek is nou reg om bedien en geniet te word!
Heuning-beeskortribbetjies
Resep deur gewilde TV-sjef en kookboekskrywer Jenny Morris.
Genoeg vir 4-6
Bestanddele
- 2 kg dikgesnyde beeskortrib, in porsies gesny
Marinade
- 6 eetlepels sojasous
- 1 teelepel Chinese 5-speserymengsel
- 1 teelepel witpeper
- 4 eetlepels heuning
- 2 opgehoopte eetlepels vars gemmer, gerasper
- 4 knoffelhuisies, gerasper
- 1 teelepel sesamolie
- 4 eetlepels sjerrie
- 4 eetlepels hoisinsous
- 2 sprietuie heel, gesny
- 1 rooi brandrissie, fyngekap
So maak mens
Plaas die beesvleis in ’n glasbak. Meng die marinadebestanddele saam, gooi oor die vleis en maak seker die stukke is bedek. Marineer oornag in yskas.
Voorverhit die oond tot 180 °C. Pak die ribbetjies in ’n geoliede oondvaste bak.
Meng die oorblywende marinade met ’n halwe koppie water en gooi dit oor die ribbetjies. Bedek met foelie en bak vir 30 minute.
Draai die oondtemperatuur af na 130 °C en bak vir ’n verdere 60 minute. Toets of die vleis sag is en laat die ribbetjies ’n bietjie langer bak indien nodig.
Indien die sous te loperig lyk aan die einde van die baktyd, sit dit in ’n klein kastrol en kook tot verdik.
Griekse ontbeende lamsboud
Lise Beyers se gunsteling-resep is hierdie Griekse ontbeende lamsboud.
Bestanddele
- 1 groot ontbeende en oopgevlekte lamsboud (of kleiner wildsbok soos springbok)
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 1 teelepel droë origanum
- 1 eetlepel vars roosmarynblare, gesnipper
- ’n Handvol Italiaanse pietersielie, gesnipper
- ’n Halwe koppie olyfolie
- 2 teelepels fyn komyn
- 1 teelepel sout
- 2 teelepels growwe peper
- Sap van een suurlemoen
- 1 rissie, fyngekap (opsioneel)
So maak mens
Sny gleuwe in die vet kant van die lam met ’n skerp mes.
Meng al die ander bestanddele bymekaar, gooi dan oor die vleis en vryf dit goed in. Laat die vleis hierin marineer vir ongeveer twee ure.
Braai die boud vir die eerste paar minute oor baie warm kole om die vleis te seël.
Maak dan die kole ’n bietjie matiger, maar nie te stadig nie, en braai ’n verdere 30 minute of langer vir diegene wat verkies dat hul vleis goed gaar moet wees.
Haal die vleis van die kole af, bedek met foelie en laat dit minstens vir 10 minute rus.
Sny in repe van so ’n sentimeter dik en bedien met hoemoes, tzatziki en warm pitabrood asook ’n lekker Griekse slaai.
Sappige patties oor die kole
Chris Barnard, eienaar van Chris se Boerewors in Proteahoogte, Brackenfell, sê die geheim is om vleis met ’n lekker stukkie vet uit te soek, anders gaan die pattie te droog wees. Hoewel hy self die vleis maal, kan jy dit ook reeds gemaal by jou slagter koop. Hy beveel ook aan dat jy die pattie half gevries of yskoud uit die yskas braai, want só bly dit lekker sappig.
Genoeg vir 1 kg patties.
Bestanddele
- 400 g varkvleis
- 600 g beesbinneboud
- Sout na smaak
- Braaisous van jou keuse
So maak mens
Maal die vark- en beesvleis fyn en voeg dan sout en braaisous na jou smaak by. Meng goed.
Verdeel die vleismengsel in balletjies en druk dit plat om ’n koekie te vorm. Plaas dit in die ys- of vrieskas tot jy die patties wil braai.
Kry jou kole gereed en braai die patties oor warm kole tot mediumgaar.
Bou nou jou burger. Broodrolletjies, blaarslaai, tamatie, uie en kaas is ’n móét!
Gerookte hoender neem slegs 20 minute!
Al wat jy nodig het, is ’n roker. Dié kan jy koop by uitgesoekte winkels wat braaigereedskap verskaf. Resep deur Jemima Abrahams.
Genoeg vir agt mense
Benodigdhede
- 2 heel hoenders, met hoenderspesery besprinkel
- 1 roker
- foelie
- ’n botteltjie brandspiritus
- saagsels
Metode
Bedek die binnekant van die rokerbak met foelie. Sprinkel twee handevol saagsels bo-oor die foelie. Plaas die roker se rooster bo-oor die saagsels. Lê die twee hoenders langs mekaar bo-op die rooster en maak die deksel toe. Giet brandspiritus oor die watte in die wattelaaitjie.
Plaas die laaitjie terug in sy gleuf met die helfte wat uitsteek. Steek dit versigtig aan die brand, en stoot die laaitjie heeltemal in. Laat die roker met hoender op sy eie voortstoom vir so 20 minute. Jou hoender is gaar!
Laat die roker effens afkoel voordat jy die gaar hoender uithaal om te keer dat jy brand. Geniet dit met bykosse!
Springbokpotjie
Resep deur Rodwyn Pullen, potjiekoskoning van Grabouw.
Dié resep is genoeg vir 8 tot 10 mense.
Bestanddele
- 2 kg springbokvleis (lies en rugstring)
- 250 g spek
- 2 groot uie, in ringe gesny
- ½ soetrissie
- 2 knoffelhuisies, fyngesny
- ½ teelepel masala
- 6 wonderpeperkorrels (all spice)
- 4 naeltjies
- 2 lourierblare
- swartpeperkorrels na smaak
- sout na smaak
- 250 ml room
- 250 g droë pruime
- wortels, aartappels, klein uie en sampioene, soveel soos nodig
Maak só
Stowe vleis tot sag. Haal uit pot. Braai dan uie en soetrissie tot sag. Voeg droë bestanddele by, dan die spek. Braai tot die spek se geur in die lug hang. Sit die vleis terug.
Voeg bietjie water by, indien nodig. Laat dit stowe vir nog so tien minute. Voeg groente by en dan room sodra vleis gaar is.
Laat die pot vir so 15 minute rus voordat jy dit met rys voorsit. Lek jou lippe af!
Vleislose braairesepte
Pizza oor die kole
Ons is almal lief vir braai asook vir pizza. So, hoekom kan ons nie die twee kombineer en ’n pizza op die braai maak nie? Wel, jy kan, en dit is só maklik.
Bestanddele
- witbrooddeeg
- babatamaties, effe sag gebraai
- 1 ui, in dun ringe gesny en stadig sag gebraai in ’n bietjie balsemiekasyn
- mozzarellakaas
- sampioene, gesnipper en blitsvinnig in ‘n pan skrikgemaak
- roketblare
Metode
Rol jou deeg so dun as moontlik uit (onthou om jou werkoppervlak goed met meel te besprinkel).
Voordat die deeg op die rooster geplaas word, vryf jy weer ’n bietjie meel aan weerskante.
Plaas dit nou binne jou toeklaprooster, maar moenie die rooster toeknyp nie, en sit dit oor matige kole.
Hou die onderkant dop. As dit mooi bruin is, draai jy die rooster versigtig om. Klap die rooster oop en op die gaar kant van die deeg versprei jy die kaas mooi egalig (moenie die kaas rasper nie, maar sny dit in skywe).
Dan kom die tamaties, uie en gesnipperde beesvleis of biltong bo-oor.
Laat jou pizza verder stadig braai; jy sal sien hoe die kaas stadig begin smelt.
Sit die roketblare bo-op voordat jy die pizza voorsit. As bykos vir enige braai, of ’n maaltyd vir vegetariërs, is ’n groentesosatie met haloumikaas baie maklik en smaaklik. En dan voel die “groenes” onder ons nie te eensaam om die kole nie.
Groentekebabs met romerige koljandersous
Haloumi het ’n rubberagtige tekstuur wat juis vir gaarmaak bedoel is. Hierdeur kom sy geur as’t ware na vore.
Bestanddele (vir vier porsies)
- 300 g haloumi
- focaccia-brood
- 2 murgpampoentjies
- 1 rooi soetrissie
- olyfolie
- suurlemoensap
- rissie
- koljanderblare
Metode
Sny hiervoor so 300 g haloumi in blokkies van ongeveer 2 x 2 cm. Haal die kors van ’n lekker stewige stuk brood soos focaccia af, en sny dit ook in blokkies.
Sny twee murgpampoentjies in ringe en een groot rooi soetrissie in blokkies op. Sny die ui in velletjies ook so groot soos die kaas en soetrissie. Dompel die groente dan in kookwater vir slegs een minuut, haal uit en maak droog met kombuispapier.
Maak ’n marinade van olyfolie, suurlemoensap, een klein opgekapte rissie, ’n handjievol fyngesnyde koljanderblare, en varsgemaalde swartpeper en sout.
Dompel al die bestanddele behalwe die brood daarin en marineer vir ’n halfuur.
Hierna word die kaas, groente en brood stuk-stuk op bamboes-sosatiestokkies geryg en ongeveer vyf minute oor warm kole gebraai. Verf die marinade so nou en dan oor die kebabs.
Vir koljandersous
Bestanddele
- ¼ koppie roomkaas
- ¼ koppie melk
- 1 klein ui, fyngekap
- sap van 1 lemmetjie
- 2 knoffelhuisies
- 1 koppie vars koljanderblare
- sout en swartpeper na smaak
Metode
Blits die room, melk, knoffelhuisies en lemmetjiesap tot goed gemeng.
Voeg dan die gesnipperde koljanderblare en ui asook sout en peper by en blits dit tot ’n gladde sous.
Skep lepels vol oor die gaar kebabs. Die sous hou goed vir so twee weke in die yskas en kan ook met vis en hoender bedien word.
Falafels
Resep deur Heleen Meyer, ’n onafhanklike koskonsultant en -stilis in Kaapstad
Lewer 4 porsies.
Bestanddele
Vir die falafels
- 1 x 410 g geblikte kekerertjies, gedreineer
- 2 sprietuie, fyngekap
- 1 knoffelhuisie, gekneus
- fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
- 10 ml (2 t) elk fyn komyn en koljander
- 45 ml (3 e) gekapte vars koljander
- 30 ml (2 e) gekapte vars kruisement
- sout en peper
- 45 ml (3 e) koekmeel
- 1 eier, geklits
- 30 ml (2 e) olyf- OF avokado-olie
Vir die jogurtsous
- 125 ml (½ k) ongegeurde jogurt
- 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
- 2,5 ml (½ t) fyn komyn
- 45 ml (3 e) gekapte vars kruie, soos Italiaanse pietersielie, kruisement en koljander
Om mee voor te sit
Babatamaties, komkommer, rooi en geel soetrissie, dwergslaaiblare en kruisementblare, suurlemoenwiggies, sprietuie en hoemoes.
Maak so
Falafels: Plaas al die bestanddele, behalwe die olie, in ’n mengbak. Druk alles met ’n vurk of aartappeldrukker fyner, maar hou die tekstuur aan die growwe kant. Geur met sout en peper en nog suurlemoen na smaak.
Vorm nou klein balletjies uit die mengsel en druk dit dan in platter frikkadelletjies. Verhit intussen ’n dun lagie olie in ’n braaipan of ’n groot plaat, wat oor die kole kan pas, en braai die falafels aan albei kante oor matige hitte tot goudbruin en gaar. Die falafels moet geleidelik gaar word, maar nie brand nie.
Jogurtsous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
Sit die falafels met jogurtsous en jou keuse van slaaibestanddele voor. Dis ook lekker in ’n pita of wrap.
WENKE
Maak groot falafels vir vegetariese burgers. Vir ’n skerper smaak, ontpit en kap 1 brandrissie en voeg 2,5 ml (½ t) gerookte of gewone paprika by. Wanneer dit in seisoen is, is avokado heerlik saam met die falafels.
* Resep uit Maak Vy
Ontbyt op die kole
Van ’n familieresep wat al dekades lank om die kampvuur gemaak word tot ’n ontbytbroodjie wat elkeen volgens sy eie smaak kan bou – Cindy Isaacs het meer gaan uitvind.
Kry nog resepte op Netwerk24 Kook
Wat eet ons daarby?
Braaibroodjies
In Suid-Afrika is ’n braai net nie dieselfde sonder ’n braaibroodjie nie. Ons almal ken die tradisionele vulsel van kaas, uie en tamatie, maar daar is soveel ander smullekker maniere om jou roosterbroodjie op te kikker. Wêreldbekende sjef en entrepreneur Jan Hendrik van der Westhuizen deel drie interessante idees vir jou volgende braai.
Brie-en-uie-marmelade- braaibroodjie
Voorbereidingstyd: 15 minute
Maak: drie braaibroodjies
Jy het nodig
- 6 snye witbrood
- botter
- 250 g briekaas
- uiemarmelade
- vars tiemieblare
Maak so
Plaas ses snye witbrood op jou werkoppervlak en botter elke sny.
Sny 250 g briekaas en plaas die kaas op al die snye brood.
Skep ’n bietjie marmelade bo-op die kaas en strooi vars tiemieblare daaroor.
Maak jou braaibroodjies toe en braai dit oor matige kole totdat die briekaas gesmelt het.
Caprese-braaibroodjie
Voorbereidingstyd: 15 minute
Maak: drie braaibroodjies
Jy het nodig
- 6 snye witbrood
- botter
- mozzarellakaas
- tamaties
- sout en peper
- basiliepesto
- vars basiliekruidblare
Maak so
Plaas ses snye witbrood op jou werkoppervlak en botter elke sny. Plaas twee snye mozzarellakaas op elke sny brood.
Plaas drie snye tamaties op drie van die snye brood en geur met sout en peper.
Smeer ’n dun laag basiliepesto op al die snye brood.
Plaas vars basilieblare op die snye brood sonder die tamaties. Maak jou braaibroodjies toe en braai dit oor matige kole totdat die mozzarellakaas gesmelt het.
Biltong-en-cheddarkaas- braaibroodjie
Voorbereidingstyd: 15 minute
Maak: drie braaibroodjies
Jy het nodig
- 6 snye witbrood
- botter
- wit verouderde cheddarkaas
- klam, gesnyde beesvleisbiltong
- volgraanmosterd
Maak so
Plaas ses snye witbrood op jou werkoppervlak en botter elke sny. Plaas dun snye wit verouderde cheddarkaas op al die snye brood (albei kante).
Plaas die gesnyde beesvleisbiltong op drie van die snye brood. Smeer ’n dun laag volgraan-mosterd op die ander drie snye brood.
Maak jou braaibroodjies toe en braai dit oor matige kole totdat die kaas gesmelt het.
Hierdie is Jan Hendrik van der Westhuizen se braaibroodjie-resepte en het oorspronklik op sy webtuiste, janonline.com, verskyn.
Gunsteling-roosterkoek
Leser Linda Jäger se gunsteling! “Dis baie veelsydig, want jy kan burgers met roosterkoeke maak, of jy kan dit as ’n braaibroodjie met botter opdien. Dit is ook ’n nuttige bykos.”
Wat jy benodig
- 1 kg witbroodmeel
- 10 g (een pakkie) kitsgis
- 1 eetlepel suiker
- 1 teelepel sout
- ongeveer twee en ’n half koppies louwarm water
- 1 opgehoopte eetlepel gesmelte botter
- ekstra meelblom om oor te strooi
Maak so
Meng die meel, kitsgis, suiker en sout. Voeg die louwarm water by.
Meng die deeg deeglik en knie vir 10 minute tot die deeg loskom van jou hande.
Vorm ’n ronde bal, smeer gesmelte botter oor en sit dit terug in die mengbak.
Trek kleefplastiek oor en sit dit op ’n warm plek om te rys tot dubbel die grootte.
Knie die deeg af en vorm bolle.
Druk dit effens plat en strooi meel oor elkeen.
Laat die bolle weer rys tot dubbel hul grootte.
Rooster stadig oor die kole tot dit gaar is. Jou rooster moet ’n redelike hoogte bo jou vuur wees, anders brand die roosterkoeke swart. Onthou om hulle gereeld om te draai sodat hulle regdeur gaar word.
Stokbrood met spek en kaas
Wat jy benodig
- Meel om werkoppervlak te bestrooi
- 500 g/1 kg gekoopte deeg
- 250 g streepspek
- Skyfies cheddar of mozzarellakaas (opsioneel)
- Dik sosatiestokkies of boomstokkies wat jy self maak
Maak so
Strooi meel oor werkoppervlak. Rol deeg in balletjies net kleiner as ’n tennisbal en laat dit vir ’n halfuur onder ’n plastieksakkie of vadoek rus.
Rol deeg in lang worsies en vleg dit stewig saam met spek om die stokkie.
Braai vir agt minute of tot gaar oor matige kole. Hou bo die kole en moenie die deeg in die kole of vlam druk nie.
Smelt die kaasskyfies oor die stokbrode sodra dit gaar is.
Groenslaai met vrugte
Vrugte soos bloubessies en avokado is ook superkosse, dus kan dit in dié resep as bykos vir ’n braai gebruik word.
’n Slaai kan soveel meer wees as blaarslaai, tamatie, komkommer en miskien ’n olyf of twee met feta en ’n slaaisous. Slaaie kan maklik die held op die tafel wees en ’n maaltyd in ’n fees omskep – nie net vir die oë nie, maar ook vir jou smaakkliere.
Die geheim van ’n heerlike slaai is om dinge eenvoudig te hou, moet dus nie te veel bestanddele in een bak kombineer nie.
’n Tuisgemaakte slaaisous om die vars bestanddele aan te vul, voeg meer geur by ’n slaai as net nog ’n element.
Hierdie kombinasie van blaarslaai en vars kruie met groenbone, komkommer en kleurvolle seisoenale vrugte, sal verseker ’n skouspel wees by jou volgende braai of byeenkoms met familie en vriende.
Vier tot ses mense sal hiervan kan skep.
Wat jy benodig
Mosterd-en-kruieslaaisous
- 45 ml (3 eetlepels) avokado- of olyfolie
- 20 ml (4 teelepels) appelasyn of framboosasyn
- 15 ml (1 eetlepel) heuning
- 10 ml (2 teelepels) volgraanmosterd
- 15 ml (1 eetlepel) vars tiemieblare
- Sout en peper na smaak
Slaai
- 45 ml (3 eetlepels) sonneblomsaad
- 45 ml (3 eetlepels) pampoensaad
- 150 g groenbone, in die breedte gehalveer
- 250 g elk rooi en wit druiwe
- 1/4 komkommer, in linte gesny met ’n groenteskiller
- Handevol vars bessies, soos frambose of bloubessies
- Groot handevol slaaiblare en kruie, soos babaspinasie of roket, basiliekruid en kruisement
- 1-2 skywe (70-140 g) feta, gekrummel of pecorino-kaas, in skyfies gesny
Maak só
Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
Slaai: Verhit ’n braaipan oor matige hitte en rooster die sade sonder enige olie tot goudbruin. Wees versigtig om dit nie te brand nie. Skep uit en laat afkoel.
Plaas die groenbone in ’n vlak bakkie. Bedek met kookwater en laat dit vir 5-7 minute staan of tot net gaar. Dreineer en spoel af met koue water. Alternatiewelik, kook liggies in ’n bietjie water, maar hulle moet bros en heldergroen bly.
Halveer van die druiwe en bessies indien nodig en hou die res heel.
Rangskik die druiwe en groenbone saam met die res van die slaaibestanddele op ’n groot slaaibord.
Sprinkel met neute en feta en bedien met die slaaisous.
Wenke
Enige ander seisoenale vrugte sal heerlik in hierdie slaai wees. Probeer perskes of nektariens in skyfies gesny, aarbeie gehalveer, of mango in blokkies gesny. ’n Kombinasie van verskillende vrugte werk goed.
Gebruik sitrusvrugte, avokado en papaja in die kouer maande van die jaar.
Mielies aan die stronk: drie maniere
Lewer 6-8 porsies
Wat jy benodig
6-8 mielies
Opsie 1
- 45 ml (3 e) olyfolie
- 10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie
- 10 ml (2 t) sesamsaad
- 2,5 ml (½ t) paprika of rooipeper na smaak (of ’n klein knippie gerookte
paprika)
Opsie 2
- 30 ml (2 e) sagte botter
- 1 skyf feta (ongeveer 70 g), gekrummel, OF 60 ml (¼ k) gerasperde pecorino- of parmesaankaas
- 1 tot 2 groen gepiekelde brandrissies (jalapeños) of pikantrissies (Peppadews®), fyngekap
Opsie 3
- 45 ml (3 e) tahini (sien wenke)
- 15 ml (1 e) water of meer, na smaak
- 10 ml (2 t) suurlemoensap
- 10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie of tiemie
Maak só
Sit die mielies in ’n groot kastrol met 125 ml (½ k) water – geen sout is nodig nie. Bring tot kookpunt en laat prut met ’n deksel op, oor lae hitte, vir net 6-8 minute tot gaar. Die mieliepitte moet net heldergeel word, maar moenie dit te lank kook nie, dan krimp die pitte en verloor hul sappigheid.
Dreineer die mielies deeglik. Sit dit net so met een van die sous-opsies voor, of rooster eers oor matige kole wanneer julle braai. Rooster die mielies net vir ’n paar minute aan al die kante tot goudbruin. Hou die mielies dop – dit brand maklik.
Opsie 1: Meng die bestanddele saam. Sit voor met die mielies en laat elkeen aan tafel van die olie oor die mielies drup – ’n heerlike alternatief vir botter.
Opsie 2: Smeer van die botter oor die warm mielies en sprinkel dan ’n bietjie kaas en brand- of pikantrissies oor.
Opsie 3: Meng al die bestanddele saam en roer nog water by tot die dikte van jou keuse. Sit voor en laat elkeen lepeltjiesvol oor die warm mielies drup.
Wenke
Tahini (’n sesamsaadpasta) is in groot supermarkte beskikbaar, dikwels in die gesondheidsafdeling. Sommige handelsmerke s’n is baie dik, dus kan jy meer water byvoeg indien nodig. Onthou dat die warm mielie dit meer loperig sal maak.
Enige van dié souse is heerlik oor geroosterde groente of liggies gestoomde groen groente as bygereg.
Hierdie resep kom van Heleen Meyer, ’n onafhanklike koskonsultant en -stilis in Kaapstad. Dit het oorspronklik op haar webtuiste, heleenmeyer.co.za en in die boek Kos is op die tafel! verskyn.
Gee dit geur
Foto: The Food Fox
Foto: The Food Fox
Taai blatjang-en-rooi-soetrissiemarinade vir hoenderstukke
Resep deur kosskrywer en TV-persoonlikheid Ilse van der Merwe van thefoodfox.com
Indien jy hoenderstukke of hoendersosaties op die rooster verkies, sal jy hou van hierdie taai marinade.
Bestanddele
- 250 ml (1 koppie) matige vrugteblatjang
- 30 ml (2 e) Dijon-mosterd
- 125 ml (½ koppie) tamatiesous
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 60 ml (¼ koppie) vars suurlemoensap
- ½ groot rooi soetrissie in blokke gesny (pitte verwyder)
- sout en peper na smaak
Metode
Plaas die blatjang, mosterd, tamatiesous, olie, suurlemoensap en soetrissie in ’n elektriese menger en verwerk tot ’n gladde dik sous.
Giet dit in ’n kastrol en verhit totdat dit begin prut. Verlaag die hitte en laat dit prut vir 5 tot 10 minute. Roer gereeld.
Geur dit liggies met sout en peper. Verwyder van die hitte en laat dit afkoel.
Gebruik die marinade om die hoenderstukke oor die vlamme te bedruip of gooi dit mildelik oor die hoenderstukke in ’n oondbak en bak in die oond.
Let wel, die marinade sal vinnig brand vanweë die suikerinhoud in die blatjang. Maak dit altyd oor medium hitte gaar, draai gereeld om en hou dit goed dop.
Foto: The Food Fox
Foto: The Food Fox
Rokerige rooiwynmarinade vir sagte steak op die vuur
Resep deur kosskrywer en TV-persoonlikheid Ilse van der Merwe van thefoodfox.com
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 - 3 huisies knoffel, fyn gerasper
- 250 ml (1 koppie) rooiwyn
- 80 ml (⅓ koppie) tamatiesous
- 30 ml (2 e) balsemiekasyn
- 15 ml (1 e) worcestersous
- 15 ml (1 e) gerookte paprika
- 2,5 ml (½ t) fyn koljander
- 2,5 ml (½ t) fyn komyn
- 10 ml (2 t) bruinsuiker
- Sout en peper na smaak
Metode
Braai die knoffel vir een minuut oor medium hitte in die olie in ’n mediumgrootte kastrol. Voeg die wyn, tamatiesous, asyn, worcestersous, paprika, koljander, komyn en suiker by en geur mildelik met sout en peper.
Roer dit goed en bring die vloeistof tot prut-stadium. Kook dit oor lae hitte vir 10 minute of totdat dit effe verdik het – die tekstuur moet soos dié van ’n bedruipsous wees.
Verwyder van die hitte en laat dit afkoel.
Gebruik dit as ’n bedruipsous vir steak, sosaties en groot rooivleissnitte, of marineer jou hele steaksnit (heel lendestuk of filet) vir ’n paar uur in die afgekoelde marinade voordat jy dit braai.
Foto: The Food Fox
Foto: The Food Fox
Oosters-geïnspireerde soja-en-gemmer-marinade vir ribbetjies
Resep deur kosskrywer en TV-persoonlikheid Ilse van der Merwe van thefoodfox.com
- 125 ml (½ koppie) sojasous
- 125 ml (½ koppie) hoisinsous
- 15 - 30 ml suurlemoen/lemmetjiesap
- 60 ml (¼ koppie) lemoen/nartjiesap
- 30 ml heuning (of bruinsuiker)
- 2,5 ml (½ t) sesamolie
- 2 huisies knoffel, fyngerasper
- ’n Knoets gemmer, fyngerasper
- 2 heel steranyssade
Metode
Plaas al die bestanddele in ’n klein kastrol en bring tot prut-stadium. Kook oor lae hitte vir 5 tot 10 minute en laat afkoel. Gebruik dit as ’n bedruipsous vir varkribbetjies of hoenderstukke.
Onthou, die sous bevat suiker/heuning, so maak dit oor ’n medium hitte gaar om te verhoed dat dit te veel skroei. Let wel, jy kan ook die ribbetjies vooraf in die oond bak (bedek met foelie) en oor die vuur braai terwyl jy dit met die sous bedruip.
Smulsouse
Heerlike bier-en-spek-kaassous
Resep deur Louise Groenewald
Bestanddele
- 4 eetlepels botter
- 1 klein ui, fyngekap
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 1 pakkie streepspek, fyngesny en bros gebraai (behou die uitgebraaide vet)
- 4 eetlepels koekmeel
- 2 koppies bier
- 1½ koppie room
- growwe sout en swartpeper na smaak
- 1 knippie rooipeper
- 1½ koppie gerasperde cheddarkaas (beleë cheddar is ook geskik)
Metode
Smelt die botter in ’n swaarboompot en braai die uie en knoffel oor medium hitte tot gaar.
Voeg die spek en uitgebraaide vet by en roer dit deur.
Sprinkel die meel oor en roer dit deur op medium hitte.
Voeg nou die bier, bietjies op ’n slag by en klits tot goed gemeng. Kook stadig vir 5 minute.
Voeg die room by en prut vir ongeveer 10 minute op lae hitte tot die sous verdik.
Verwyder dit van hitte (belangrik) en voeg die geurmiddels en kaas by. Roer liggies tot al die kaas ingemeng en gesmelt het.
Indien jy die sous weer die volgende dag wil verhit, doen dit in ’n potjie op die stoofplaat oor lae hitte en nie in die mikrogolfoond nie, om te verhoed dat die kaas in die sous skif.
Bedien die sous saam met biefstuk, vark- en hoenderschnitzels of hamburgers.
Sampioensous met brandewyn
Resep deur Louise Groenewald
Bestanddele
- 250 g sampioene, in skyfies gesny
- 1 groot ui, fyngekap
- 5 ml vars knoffel, fyngemaak
- 250 g roomkaas of geroomde maaskaas
- 250 ml suurroom
- 5 ml varsgemaalde swartpeper
- 5 ml gerookte paprika
- sout na smaak
- 25 ml brandewyn
Metode
Braai die uie en knoffel tot amper gaar oor medium hitte.
Voeg die sampioene by en roerbraai oor hoë hitte vir ’n paar minute.
Verlaag die hitte, voeg die roomkaas, suurroom en geurmiddels by en meng goed.
Voeg die brandewyn by en laat dit staan op die afgeskakelde plaat vir omtrent ’n halfuur voor opdiening.
Verhit indien nodig, maar moenie dat dit kook nie.
Bedien saam met biefstuk, hoender of pasta.
Lekker op alles tamatie-rooiwynsous
Resep deur Louise Groenewald
Bestanddele
- 1 ui, gekap
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 1 groen en 1 rooi soetrissie, fyngekap
- 250 g sampioene, in skyfies gesny
- 1 blik tamatie-en-uiesmoor
- ½ koppie rooiwyn
- ½ pakkie beesstert- of biefgegeurde soppoeier, met ½ koppie water gemeng
- 1 klein pakkie tamatiepasta
- 3 ml matige of sterk kerriepoeier
- 5 ml suiker
- varsgemaalde swartpeper, na smaak
- Proe agterna of enige ekstra sout nodig is
Metode
Braai die uie, knoffel en soetrissie tot gaar in ’n bietjie olie.
Voeg die sampioene by en roerbraai vinnig oor hoë hitte vir ’n paar minute.
Voeg die res van die bestanddele by en kook oor lae hitte vir omtrent 15 minute. Indien jy die sous dikker verkies, verdik dit met 5 – 10 ml mielieblom wat met 'n bietjie koue water gemeng is.
Hierdie sous is heerlik oor enige vleis, en ook fantasties oor kapokaartappels en wors.
Uit idees? Laai die Netwerk24 Kook-app af
SKEMERKELKIES MET SKOP
Mojito
- Wit rum
- Lemmetjiesap
- Kruisement
- Soda
- Versoeter (fyn suiker is tradisioneel, maar stroop kan ook gebruik word)
- Ysblokkies
Pink Bombay-drankie
- Dubbele jenewer
- Pienk kinawater (tonic)
- Vars aarbeie
Margarita
- Tequila (20 ml)
- Lemoenlikeur (5 ml)
- Vars lemmetjiesap
- Ysblokkies
- Opgesnyde lemmetjie
New Orleans Shuffle-drankie
- Dubbele jenewer
- Kinawater
- Bitters en vars opgesnyde lemmetjie
Sidecar
- 50 ml brandewyn
- 25 ml KWV Van Der Hum-likeur
- 25 ml sitrussap
- 3 skeute nartjie-bitters
Plaas al die bestanddele in ’n fles vir mengeldrankies oor ys.
Skud en vergiet in ’n koepeeglas.
Garneer met ’n gedroggde lemmetjieskyfie en ’n klein stukkie Slangbos-fynbos.
Spuit skemerkelkie met absinthe.
Resep deur CAUSE | EFFECT Cocktail Kitchen
Whiskey met 'n tikkie tropiese lekkerte
- 50 ml whiskey
- 50 ml Amaretto
- 60 ml pynappelsap
- maraschino-kersies
Skud al die bestanddele in ’n mengeldrankie-menger en vergiet oor ’n groot blok ys in ’n whisky-glas. Garneer met ’n kersie en gedroogte pynappelskyfie.
Bloody Mary
- Ysblokkies of gebreekte ys
- 2 liter tamatiesap
- 20 ml worcestersous
- 125 ml vodka (na smaak)
- 4 suurlemoene, sap uitgedruk
- selderysout
- vars selderystingels vir garnering
Maak 'n groot maatbeker halfvol met die ysblokkies of gebreekte ys. Voeg die tamatiesap, worcestersous, vodka en suurlemoensap na smaak by. Roer tot alles gemeng is.
Skink dit in lang glase en geur met selderysout. Garneer elk met 'n selderystokkie en sit voor.
Old Fashioned-drankie
Dié drankie dateer terug na 1803.
- Amerikaanse whiskey (50 ml)
- Angostura-bitters
- Groot blok ys (maak seker jy sit dit eerste in die glas)
- Esdoringstroop
- Lemoenskil
- ’n Stukkie eikehout om te brand (opsioneel)
- ’n Brûlée-brander as jy die eikehout gaan gebruik
Nie-alkoholiese skemerkelkies
Resepte deur Regardt Jansen, hoofbestuurder by die gesinsrestaurant
Jackson and Black in Tygervallei
Martini-rooibosspritzer
Gebruik die volgende:
- 40 ml Martini Zero Dolce
- 30 ml rooibostee (afgekoel)
- Vars kruisement
- 25 ml suikerstroop
- 1 skyfie suurlemoen
Dit kan afgerond word met baie ys.
Martini-suurlemoenspritzer
- 40 ml Martini Zero Dolce
- 30 ml Elderflower-stroop
- Skyfie suurlemoen
Gekruide Savanna Cooler
- 40 ml Savanna Zero
- 20 ml appelsap
- Knypie kaneel
- Knypie neutmuskaat
Klassieke Mojito
- 20 ml vars lemmetjiesap
- 20 ml suikerstroop
- Vars kruisement
- 40 ml sodawater
Zero Hero
- 40 ml Devil’s Peak Hero
- 25 ml pomelosap
- ’n Tikkie swartbessiekonfyt
The Papple Jar
- 30 ml groen appelstroop
- 40 ml pynappelsap
- ’n Skyfie pynappel
Mango Passion Jar
- 30 ml grenadella-ekstrak
- 40 ml sodawater
- Vars kruisementblare
- Vars lemmetjie
Aarbei-daiquiri
- 25 ml aarbeipuree
- 30 ml aarbeistroop (Meng albei tot perfeksie)
Foto: Unsplash
Foto: Unsplash
Resepte te kies en te keur op Netwerk24 Kook
Iets soets
Probeer gerus dié interessante nageregte op die vuurtjie
Tasneem van Rooyen
Wie het gesê dat ’n vuurtjie slegs vir vleis is? Indien jy nie geweet het nie, daar is hope resepte vir nageregte wat jy oor die kole kan maak.
Rina Kleinhans, eienaar van die Food Lovers Recipes-webtuiste, deel haar lesers se gunsteling-nageregte wat hulle gewoonlik op die vuur maak.
Rinnie Louw se swartpotappeltert op die kole
Jy het nodig:
- 125 g botter
- 1½ koppie bruismeel
- 125 ml suiker
- 2 eiers
- 1 koppie melk
- 2 teelepels vanielje
- ’n knippie sout
Maak so:
Vulsel
Meng 75 ml sultanas, 75 ml korente, 50 ml brandewyn, 50 ml soetwyn, 1 ml kaneel en ’n knypie fyn naeltjies en laat staan op ’n lou stoofplaat vir ’n halfuur.
Voeg sewe groen appels geskil, ontpit en in kwarte gesny, asook 100 ml suiker en 2 ml sout by.
Kook liggies tot appels verwelk. Voeg 50 ml mielieblom, opgelos in koue water, by.
Laat effens afkoel en hou eenkant.
Sous
Verhit 350 ml room, 250 ml suiker en 5 ml vanielje en hou warm.
Beslag
Verroom die botter en suiker, voeg twee eiers by en klits goed. Voeg sout by en meng meel en melk om die beurt by. Voeg laastens die vanielje by en meng goed.
Skep die helfte van die beslag in ’n platboomswartpot. Skep dan die vulsel in en skep die res van die beslag bo-op die vulsel sodat dit eweredig bedek is
Bak oor medium kole vir sowat ’n uur.
Prik dan gaatjies in die nagereg, gooi die sous oor en hou warm. Hierdie nagereg is heerlik saam met roomys!
Louise Venter se sjokolade-en-malvalekkerpotjie
Jy het nodig:
- 1 sjokoladekoekmengsel en bestanddele op die agterkant van die boksie
- 1 sjokoladepoedingmengsel met twee koppies koue melk
- 1 koppie malvalekkers
- ½ koppie witsjokoladestukkies
Maak so:
Berei jou koekbeslag voor soos aangedui op die boksie en gooi dit in ’n gesmeerde potjie.
Berei die sjokoladepoeding voor. Bedek die koekmengsel met malvalekkers en smeer dan die poedingmengsel oor die malvalekkers.
Sprinkel die sjokoladestukkies bo-oor. Bedek met ’n deksel en kook vir 50 tot 60 minute totdat die kante gaar is en die poeding begin borrel het.
Bedien met room of roomys.
Gideon Louw se grenadellapoeding
Jy het nodig:
- 125 ml suiker
- 60 ml botter
- 2 eiers, geskei
- 75 ml koekmeelblom
- 300 ml melk
- Moes van 4 vars grenadellas
Maak so:
Voorverhit jou varkie-oond tot 180°C (jy kan met jou hand voel).
Klop die botter en suiker saam tot goed gemeng. Voeg die eiergele by en meng goed.
Klop meel, melk en grenadellamoes by. Klits eierwitte tot styf en vou liggies in die mengsel in.
Giet in klein pannetjies wat vooraf gespuit is en bak in jou varkie-oond vir 30 minute.
Bedien met suurlemoengegeurde roomys.
Die resepte het oorspronklik op Rina Kleinhans se Food Lovers Recipes-webtuiste verskyn.
Braai op ’n begroting
Wenke vir braai op ’n begroting
'n Braai klink dalk na ’n duur affêre, maar jy hoef nie ’n bank te beroof om ’n lekker ete te hou nie. Tasneem van Rooyen gesels met sjef Tiaan Langenegger van die kookprogram Tiaan Proe oor sy wenke vir braai op ’n begroting.
Vir Suid-Afrikaners is ’n lekker braai darem net deel van ons DNS. Om gesellig rondom ’n vuur te kuier, veral in die warmer weer wat die lente nou bring, is die volmaakte viering van Erfenisdag.
As dit kom by wat om op die kole te gooi, kan dit egter duur raak, veral met die prys van vleis wat dakhoogte bereik het.
Dit mag dalk klink soos ’n geleentheid om uit te haal en te wys, maar dit is moontlik om oorgenoeg te hê met minimale onkoste.
Daar is hope wenke wat jy kan volg sodat jy nie te diep in jou sak hoef te grawe vir ’n heerlike braai op ’n begroting nie.
Tiaan sê een van die grootste foute wat mense maak, is om te veel te dink oor die braai.
“Moenie jou braai te ingewikkeld maak nie. Hou dit eenvoudig,” sê hy.
Tiaan se wenke vir braai op ’n begroting
Kyk na goedkoper vleisopsies: Daar is vele vleissnitte wat gebraai kan word, maar jou nie ’n plaas se prys sal kos nie. Iets soos hoender, waarvan heerlike sosaties gemaak word, is altyd ’n opsie. Dit is goedkoop, geurig en kan lekker gemarineer word.
Jy kan ook eksperimenteer met ander goedkoper vleissnitte, maar maak seker dat jy jou vuur baie goed verstaan om te verseker dat jy nie die vleis verbrand nie. Van die goedkoper vleisopsies sluit in:
- Hoender
- Rib
- Texan steak
- Boerewors
- Bees-espetadas
- kruisskyf (rump steak)
Maak bekostigbare bykosse: Bykosse soos ’n romerige aartappelgebak op die kole hoef glad nie duur te wees nie en werk altyd baie goed saam met braaivleis. Die tradisionele aartappelslaai is ook natuurlik ’n goeie idee.
Oorweeg gourmetbraaibroodjies met iets soos sampioene wat luuks sal lyk en proe.
Kyk na bekostigbare brood-idees: Roosterkoeke is iets wat werk soos ’n bom as die kole al effens begin afkoel.
Die voordeel hiervan, is dat dit ook iets is waarmee die groter kinders kan help. Sit dit dan met ’n verskeidenheid sakpasvulsels voor.
Versier jou braaiborde vir ’n luukse voorkoms: Hoewel jy op ’n begroting werk, beteken dit nie dat dit so moet lyk nie. Daar is baie goed wat jy kan doen om jou braaivleis en bykos te laat mooi lyk.
Dis nou tyd om jou houtplanke en bakpapier uit te haal. Gebruik sommer kruie uit jou eie tuin vir garnering.
Braaipret en bekostigbare geregte vir die kleingoed: Daar is verskeie goedkoper opsies vir kinders, soos om mielies te braai. Daar kan gegeurde botter en sout op kom. Laat hulle self kies en dit opsit om deel te voel van die geselligheid.
Dink ook aan worsstokkielekkers wat goed werk met kinders.
Vir soetigheid, maak s’mores – ’n “toebroodjie” wat bestaan uit gebraaide malvalekkers en sjokolade tussen enige soort kraakbeskuitjie.
Wenke vir jou vuur
Verstaan jou vuur: As jy eers die eenvoud van die geselligheid onder die knie het, maak seker dat jy jou vuur verstaan. Jy wil nie die vleis te gaar hê nie en jy moet seker maak dat die vuur nie te koud of te warm is nie. Beheer oor jou kole is baie belangrik en maak seker jy weet wanneer jy meer of minder hitte benodig.
Maak ’n ekstra vuur: Maak altyd
seker daar is ’n ekstra vuur aan die gang sodat jy dadelik ekstra kole kan hê wanneer jou vuur te koud raak. Daar is niks so aaklig as om skielik sonder kole te sit nie.
Braai eers die bykosse klaar: Braai jou hoofgereg nadat jy jou bykosse gebraai het, anders moet jy dit warm hou en dit draai nooit goed uit nie.
Probeer verskillende soorte hout en/of skaafsels: Dit gee ander geure aan jou vleis. Selfs kruie werk baie goed.
Nuttige wenke
Braai 101: Kies só die regte hout
’n Vuur by ’n braai of kuier skep gewoonlik ’n gesellige atmosfeer. Maar waarmee word daar vuurgemaak? Danielle Daniëls het gaan uitvind wat die regte hout is vir jou braai.
Baie Suid-Afrikaners is lief daarvoor om te braai of sommer net langs ’n vuur te kuier.
Hoewel jy maklik met houtskool kan braai, is ’n houtvuur net soveel lekkerder. Maar as jy nie ’n ervare braaier of houtkenner is nie, kan jy maklik deurmekaar raak en met die verkeerde hout opeindig.
Volgens Vicki Boltney van Firewood – Cape Town is daar baie verskillende houtsoorte beskikbaar, maar die gewildste bly bloekom en swartwattel, wat sy as die beste vir kaggelvure beskou. “Vir braai is daar plaaslike houtsoorte soos rooikrans wat heerlike kole gee. Maar as jy ’n bietjie meer gesofistikeerd wil wees, kies jy Namibiese hardehout soos kameeldoring, sekelhout, mopanie en swarthak. Kameeldoring gee boonop ’n heerlike smaak af as jy vleis braai,” sê sy.
Vicki waarsku dat dennehout glad nie vir die kaggel of braai geskik is nie, aangesien dit ’n nare reuk afgee.
Naudé Lambrechts van Stompies sê nie alle hout brand dieselfde nie. “Of jy nou braai, kook of bloot warm wil bly, die regte hout maak ’n reuse-verskil,” sê hy.
Naudé se wenlys van houtsoorte:
- Namibiese kameeldoring: ’n Langbrandende hout met min rook en ’n muskusagtige reuk. Dit skep blywende, warm kole wat ideaal is vir braais en kaggelvure.
- Rooikrans: ’n Wes-Kaapse gunsteling wat groot, warm kole en volgehoue vlamme lewer. Perfek vir braai en as alledaagse vuurmaakhout.
- Bloekom: Bekend vir sy hoë, langdurige hitte-uitset, maar met min kole. Word dikwels gebruik in pizza-oonde en as verwarmingshout.
- Swartwattel: ’n Kostedoeltreffende sagtehout wat groot vlamme lewer, en langer en warmer brand. Geskik vir pizza-oonde, potjiekos en as algemene vuurmaakhout.
Volgens Naudé is hardehout die beste keuse vir braai – en met goeie rede. “Die digtheid en lae voginhoud skep warmer, langdurige vure met minimale rook.
Hy reken kameeldoring is die onbetwiste gunsteling onder braai-entoesiaste. Dit word dikwels die “Koning van Braai” genoem, juis omdat dit stadig en warm brand, amper geen rook afgee nie, en voginhoud van onder 5% handhaaf. Dit gee daardie outentieke braai-ervaring waarvoor Suid-Afrikaners so lief is,” verduidelik hy.
Naudé meen kameeldoring lei die veld, maar ander tradisionele houtsoorte het ook hul plek op die braaivleisvuur.
“Mopaniehout, met sy ongelooflike digtheid, neem jare om heeltemal droog te word, maar beloon jou geduld met uitsonderlike hitte.
“Rooikrans, ’n Wes-Kaapse gunsteling, produseer binne sowat 40 minute perfekte kole en hou lank hitte vir lang kooksessies. Swartwattel is ’n omgewingsvriendelike keuse.”
Om gehalte-hout te kies verander jou braai van ’n eenvoudige “vleisie op die vuur” in ’n gekoesterde Suid-Afrikaanse ervaring, reken Naudé.
Só kan jy maak met jou oorskietbraaivleis
Die braai is verby, maar die vleis hoef beslis nie saam met die kole afgekoel te word nie. Tasneem van Rooyen deel heerlike idees vir die volgende dag.
Erfenisdag
Vier Erfenisdag met ’n sakpas-piekniek
Pret hoef jou nie platsak te laat nie. As jy nog nie planne het nie, is daar hope begrotingsvriendelike aktiwiteite wat jy sommer op Erfenisdag in die buitelug kan geniet. Tasneem van Rooyen gee ’n handvol opsies.
In die moderne era, waar sosiale media dikwels alles “Instagram-esteties” laat lyk, kan dit maklik voel asof jy nie die mooi dinge in die lewe kan geniet sonder ’n reuse-begroting nie. As jy lus is vir ietsie anders as ’n tuis-braai op Erfenisdag, is daar heelwat opsies waar jy die natuurprag ten volle kan ervaar sonder om ’n plaas se geld uit te gee.
’n Piekniek is die perfekte manier om dit te doen: jy deel besonderse oomblikke met jou geliefdes, smul aan jou gunsteling-happies, en geniet asemrowende uitsigte.
Lekker hoef nie altyd duur te wees nie! Hier is ’n paar van die topbestemmings vir ’n onvergeetlike piekniekervaring:
Arderne-tuine
Die Arderne-tuine in Claremont, Kaapstad, is oop van 08:00 tot 18:00 en huisves ’n versameling van nie-indringerbome, plante en blomme van oor die wêreld heen wat ’n welige tuin-oase skep.
Die Japannese damme, kolossale bome en geheime paadjies skep ’n sprokiesagtige en romantiese piekniekplek.
Let wel: Die park is ’n gewilde plek vir troufoto-sessies, veral oor naweke. Dus is dit beter om dit gedurende die week te besoek om te keer dat die fotonemery jou piekniek ontwrig.
Toegang is gratis, maar besoekers word aangemoedig om ’n donasie in die donasieboks by die hek te los, of aanlyn geld te skenk.
Honde aan leibande word toegelaat en daar is 24 uur per dag veiligheidswagte wat die tuin patrolleer. Groet hulle gerus in die verbygaan, want vriendelikheid kos ook mos niks!
Groenpunt-park
Hierdie sentraal geleë biodiversiteitstuin voel onmiddellik soos ’n rustige toevlugsoord weg van die stadsgewoel. Toegang is boonop gratis.
Jy kan dit Maandae tot Sondae van 07:00 tot 19:00 besoek.
Daar is piekniektafels, bankies, fonteine en skaduryke plekke waar jy ’n piekniek-kombers kan oopgooi en dan rustig die natuurprag om jou kan sit en waardeer.
Die asemrowende berguitsigte, uiteenlopende plantlewe en voëls maak dit die ideale plek vir ’n heerlike piekniek.
Veiligheidspersoneel is by die ingange sigbaar en patrolleer gereeld die terrein.
De Hoop-natuurreservaat
As jy jou in die Overberg-omgewing bevind, is die De Hoop-natuurreservaat ’n besoek werd. Die reservaat is oop van 07:00 tot 18:00, behalwe op Vrydae wanneer dit eers 19:00 sluit. Toegangsgelde begin by R50 vir volwassenes en R30 vir kinders.
Dié reservaat het van die beste stap- en fietsryroetes in die land, met roetes van verskillende lengtes wat jou langs die kus en oor bergagtige terrein neem en jou beloon met skouspelagtige uitsigte oor sandduine en strande.
Hou gerus jou oë oop vir die wild wat hier woon, verken die getypoele, snorkel tydens laagwater of hou piekniek op die strand.
Dit is ’n heerlike opsie vir mense wat graag ’n see-ervaring met ’n piekniek wil kombineer.
Die reservaat is boonop een van die beste plekke vir walviskyk, veral tussen Julie en November. Hier kan jy dikwels vanaf die ongerepte sandduine walviskoeie en hul kalfies dophou. En as jy gelukkig is, sien jy dalk hoe ’n walvis uit die water spring, sy stert klap en weer plat op sy maag die water tref.
As Wêrelderfenisgebied is De Hoop wêreldwyd bekend as een van die belangrikste broeigebiede vir suidelike noorkapperwalvisse, met sowat 40% van die wêreldbevolking wat jaarliks hul kalfies hier kom kry.
Kraalbaai, Weskus Nasionale Park
As jy die Weskus besoek, is die Weskus Nasionale Park vol verrassings, waarvan Kraalbaai seker een van die mees betowerende is. Hierdie strande lyk soos iets uit ’n fliek en bied ongeëwenaarde uitsigte.
Die baai is bekend vir die Kraalbaai Lifestyle Boat Houses wat in die middel van die strandmeer lê en vanaf die oewer gesien kan word.
Selfs al is dit buite jou begroting, hoef jy jou nie te bekommer nie, want die prentjiemooi strande beskik oor braaigeriewe en oorgenoeg plek om jou piekniekmandjie te gaan uitpak. Jy moet wel vir toegang tot die park betaal, maar daarna is dit gratis om jou eie braai of piekniek te geniet.
Kraalbaai bied ’n rustige atmosfeer wat ideaal is vir die hele gesin.
Hou net in gedagte dat die park en sy strande baie besig raak wanneer die weer warmer word. Dit is dus slim om vroeg op te staan en betyds vir jou uitstappie te vertrek.
Vind damme, bome en volop piekniekplek by die Arderne-tuine in Claremont. Foto: Ardene Gardens | Facebook
Vind damme, bome en volop piekniekplek by die Arderne-tuine in Claremont. Foto: Ardene Gardens | Facebook
Rustigheid te midde van die middestad se geraas is wat jy in Groenpunt-park sal kry. Foto: Verskaf
Rustigheid te midde van die middestad se geraas is wat jy in Groenpunt-park sal kry. Foto: Verskaf
In De Hoop-natuurreservaat kan jy dalk wild sien as jy een van die stap- of fietsryroetes aanpak. Foto: Verskaf
In De Hoop-natuurreservaat kan jy dalk wild sien as jy een van die stap- of fietsryroetes aanpak. Foto: Verskaf
As jy nie ’n huisboot kan huur om op te bly nie, hou net piekniek op die strand by Kraalbaai. Foto: Getty Images
As jy nie ’n huisboot kan huur om op te bly nie, hou net piekniek op die strand by Kraalbaai. Foto: Getty Images
As jy nog steeds wonder wat om te maak vir Braaidag, laai die Netwerk24 Kook-app af.
Samesteller: Malani Venter
Uitleg: Lizelle van Jaarsveld en Maryke Cumpsty
Subredakteurs: Adele Myburgh
Bedryfsredakteur: Mari Zeelie










